Matching family tree profiles for Hermanus Gerhardus Booysen
Immediate Family
-
daughter
-
father
-
mother
-
brother
-
brother
-
brother
About Hermanus Gerhardus Booysen
Die volgende is aan my, Hermanus Gerhardus (Herman) Booysen, eerste/oudste kleinseun van hierdie persoon, in 2014 gedikteer ter wille van die kennis van die nageslag, deur sy tweede-oudste seun, Johannes Hermanus (Hannes) Booysen -- my pa -- op daardie stadium sy enigste oorlewende kind:
Volle name: Hermanus Gerhardus Petrus Booysen. 2de oudste seun: Sy broers was Petrus Gerhardus, Pieter Abraham (Braam, dood aan longontsteking, het op die paaie gewerk), Karel (dood in motorbotsing met trein, Sidney Booysen se pa). Susters: Max (Magrieta), Gertruida (Daaitjie), Lets (Aletta).
Sy pa, oupa Pieter Abraham (Braam) Booysen, was ʼn krygsgevangene tydens die Boereoorlog in Ceylon. Braam was 'n lid van die Kroonstad-kommando en was onder die boere wat by Surrender Hill tussen Fouriesburg en Clarens gevange geneem is, Baie interessante feite daaroor is beskikbaar, maar nie hier relevant nie, behalwe dat Braam se rang bloot "burger" was.
Sy vrou, Ella (Elsje Carolina Pyper), se ma was in die konsentrasiekamp by Luckhoff, waar een van haar seuns dood is.
Gebore 9 Julie 1889 te Lindley. Ouers: Pieter Abraham (Braam) Booysen en Gertruida Grové. Braam het ʼn bakkery gehad in Heilbron. Herman het as kind gaan boer saam met sy oupa en ouma naby Lindley op die plaas Vegkop (waar die bekende veldslag tussen die Voortrekkers en die Ndebeles vroeër plaasgevind het).
Sy eie ma, Gertruida, was ʼn vroedvrou. Herman het gereeld as kind sy ma vergesel om vroue by te staan tydens geboorte. Sy werk was om as vroedvrou se assistent op te tree, wat ingesluit het om skoon, warm water te voorsien, skoon te maak ná die geboorte, die baba se eerste asem aan te help, in die algemeen te help, en om (in die vele gevalle wanneer die moeder in die geboorteproses gesterf het) vir die hele nag wakker te bly om die lyk op te pas sodat die rotte nie daaraan mag knaag nie voordat die lyk die volgende dag deur lykbesorgers verwyder word. Hy het nie geglo aan die bestaan van spoke nie, en het in die latere 1960's aan my vertel dat hy in daardie nagte by die lyke gesoek het na spoke en geen kon vind nie.
Sy swaer, Hansie Pyper (Ella se broer), was getroud met Anna. Haar ouers het die hotel gehad op Koppies. Hansie het in die myne gewerk as skagtimmerman, en het by geleentheid onder in die myn vasgeval. Hy is ontslaan nadat hy skok daarmee opgedoen het. Naby aan die einde van die oorlog is hy Noorde toe om te gaan veg. Koppies het geen drankwinkels gehad nie as kerknedersetting. Daar was ʼn inwoner van die hotel, ene Vosloo, wat onwettig drank uit sy kamer verkoop het. Toe Anna hom kom roep vir ete, trek hy los met die haelgeweer deur die deur en skiet Anna dood – die regter in die hofsaak het gesê dat ons seker nooit sal weet wat presies daar gebeur het nie, en daar word nou nog gespekuleer of hy in sy slaap gehandel het (soos hy beweer het), en of hy gedink het dit is ʼn klopjag. Oom Hansie was op pad huis toe vir die naweek van Ogies af waar hy gewerk het. Hulle het hom op die stasie ingewag met die nuus van Anna se dood. Hy het gevra of hy die lyk kan sien. Toe hy daar kom, het hy reguit ingestorm en was die lyk nog nie koud nie. Hy het nooit regtig herstel van die PTSD nie. Sy dogter, Corrie, het toe by haar oom Herman en Ella gaan bly, en is later met Bertie Joynt, ʼn prokureur van Parys, getroud. Oom Hansie was kinders se grootste maat en het vir hulle swaaie opgesit en kaskarre gebou, kitaar gespeel, en gesing. As hy op ʼn bus gery het, het almal in die bus saamgesing. Hy was so sterk soos ʼn bees – as iemand hom kwaad gemaak het, het hy daai ou gepot. Oom Hansie het by ʼn bandeplek in Heilbron gewerk toe iemand hom aanbeveel om teen Alex Dumas (ʼn boer van die distrik) te stoei as ʼn voorgeveg – Van Staden, die eienaar van die bandeplek het self ʼn bietjie gestoei. In die geveg het Oom Hansie Alec ʼn paar keer opgetel, op hom gaan lê en dan was hy magteloos – die mense het dit skreeusnaaks gevind! Die Jode-meisie van Pieter (Herman en Ella se oudste seun) het op ʼn stadium gevra, “who’s that hairy bloke?”. Hy kon die volgende oggend nie regop kom uit die bed nie, alles was seer. Oom Hansie het vir ʼn ruk by die stasie gewerk op Heilbron en by sy broer Herman en Ella gebly. Die seuns lê hom een nag voor op sy pad terug met ʼn laken om hom skrik te maak. Hulle het net betyds gesê wie hulle is, waarop hy gesê het, ”julle moet dit nooit weer doen nie, en kon julle doodgemaak het!” Hy het nooit self gedrink nie, en het altyd ʼn Hartley-sigaret gebedel net om sosiaal te wees.
Herman het gematrikuleer en ʼn rukkie saam met sy oupa geboer op Vegkop. Hy het toe vir sy ma gesê dat hy Amerika toe wil gaan om die nuwe tegnologie, motorwerktuigkunde, te studeer, en vir haar in ʼn brief gevra om te sê of hy dit mag doen. Sy was in twee geskeur daaroor en het twee briewe geskryf in antwoord: een om te sê nee, en die ander om te sê ja. Sy gee die briewe aan die bediende met die opdrag om een te pos en die ander terug te bring. Sy was vreeslik hartseer om te sien dat die bediende die ja-brief gepos het en die nee-brief teruggebring het, maar daarmee was die koeël deur die kerk.
Hy is in 1918 saam met Van Sandwyk (later hoof van General Motors Suid-Afrika (skrywer van ʼn boek met Afrikaanse motorterme, vandag nog in algemene Afrikaanse omgangstaal) na Kansas City, Missouri in die VSA om motorwerktuigkunde te studeer aan die Sweeney Automobile College. Het met ʼn skip gereis tot by Southampton en van daar na Amerika – meer as ses weke ter see.
[Nota: Skeepsmanifes wys dat Herman op 14 November 1919 op die skip SS Adriatic aan wal gestap het vanaf Southampton, Brittanje. Die passasierslys gee sy besonderhede aan as volg:
Family Name: Booysen Given Name: Hermanus Age (yrs): 21 Sex: M Married or Single: S Calling or Occupation: Student Able to: Read: Yes Lang: English Write: Yes Nationality: Gt Brit Race: Dutch Last Permanent Residence: Country: O.F.S City/town: Heilbron Relative: Father Mr A. Booysen; Heilbron; O.F.S. So. Africa Final Destination: State: Mo. City: Kansas City Stamp: Non-Immigrant
In sy tyd in die VSA breek die Eerste Wêreldoorlog uit en sluit hy aan by die Amerikaanse leër. Hy was kwartiermeester en het ʼn sertifikaat van eervolle ontslag ontvang. Hy was baie klein gebou, maar dit het hom nie gekeer om 'n groot impak te hê op fisiese vlak nie, Daar word vertel dat hy in die leër eenmaal ʼn medesoldaat te lyf gegaan het nadat dié hulle kaserne omgekrap het en moes gekeer word voordat hy die ou op die skerp penne van ʼn heining wou gooi. Daar was ook 'n storie van 'n Amerikaanse neger-groep wat soos 'n berugte bende die "respek" van andere in die leër afgedwing het met hul brute kragdadigheid: een van hul gunsteling-truuks was om in die kroeg in te stap en die pool-tafel eenvoudig te skaak deur die pool-stokke uit die huidige spelers te hande te gryp en die spelers te verjaag met dreigemente van geweld. Een dag, terwyl Herman en sy vriende besig was om pool te speel, het die berugte groep die kroeg binnegekom. Een van die belhamel se meelopers het hom aangemoedig om die tafel oudergewoonte te skaak. Sy antwoord was: "No, not that South African. When he takes you on, he doesn't stop before you're dead!"
Sy oudste broer, Petrus, en ene De Beer het ʼn paar maande later by hulle aangesluit om dieselfde kursus te volg. De Beer was later op Parys. Vir ekstra geld het Herman en Van Sandwyk op plase gewerk en koring geoes. Terwyl hulle nog so werk, kom daar ʼn motorkar verbygery met sy broer Petrus agter die stuur en 'n vet sigaar in die mond – hy het die plaaseienaar oortuig om hom aan te stel as chauffeur.
Ná sy terugkeer na Suid-Afrika het hy op Philippolis gewerk en by Elsie Carolina Pyper se losieshuis geëet, waar hy haar dogter (ook Elsie Carolina, algemeen bekend as Ella) Pyper ontmoet het. Elsie senior se man was die bekende Kommandant Johannes Hermanus (Hans) Pyper, en sý broer se naam was Schalk (rang onbekend). Kmdt Hans Pyper se portret hang tans in die Oorlogsmuseum in Bloemfontein. Ella het drie susters gehad: Cecilia (Cillie), getroud met Dirk van de Wall (hulle het tweeling-dogters gehad, Elsie en Truda) gebore 22 Januarie 1920. Seun was Gilles van de Wall – later direkteur-generaal – se pa; Dirk was seun van Gilles van de Wall, ʼn immigrante-predikant uit Holland en broer van Marius, bekende prokureur van Bloemfontein, en Johanna (Jo, vroeg dood, moontlik aan witseerkeel). Cillie het ʼn pragtige sangstem gehad en het gereeld op troues gesing. Sy het hewige asma gehad. Hulle het al die jare in Ficksburg gebly waar Oom Dirk die kerk se boeke gedoen het as scriba. Cillie was ʼn onderwyseres en nasionale voorsitter van die Rooikruis. Elsie was ʼn onderwyseres en het met ʼn boer getrou en naby Letsitele geboer. Truda was getroud met Naudé du Toit, eienaar van Sonop winkel in Maitlandstraat (nou Charlotte Maxekestraat), Bloemfontein. Sy het later ʼn bruidswinkel gehad. Sy was ʼn groot snob en het ʼn helse comedown gehad met haar egskeiding. Elsie was ʼn lieflike mens.
Nadat Herman met Ella getroud is, het hulle Winburg toe getrek, waar hul eerste twee kinders, Pieter en Johannes gebore is. In 1931 besluit Herman om te gaan boer op Rooiwal by Koppies. Met die koms van die depressie kos ʼn sak mielies 3/6 (35 sent in vandag se taal, maar onbekostigbaar in daardie tyd!) en die rooi stowwe kom oorgewaai. Hulle is toe na Primrose waar Herman sy eie garage begin by Primrose Corner genaamd Killarney Garage. Hulle het huis gekoop in Carnationweg 15 (twee erwe, later een afverkoop). Hy het ʼn subagentskap gehad van Sydney Clow om Plymouth en Dodge te verkoop.
Herman word Kommandant in die konserwatiefgesinde Ossewa-Brandwag (OB) en die effens meer-liberale staatspeurders begin hulle dophou. Met die internering van adv. John Vorster (later Eerste Minister en uiteindelik seremoniële Staatspresident), Generaal Krots, en Kmdt Ligterkorst, weet Herman hy sou volgende in hegtenis geneem word. Die gesin versteek belangrike OB dokumente in die motorwrak in die agterplaas. By geleentheid toe die huis gevisenteer is, onthou hul tweede seun Hannes (toe so 8 jaar oud), dat ʼn naamlys uit die geheime laatjie van die buffet geneem was en in sy skoen weggesteek was. Hy was aangesê om net doodstil te staan en nie met enigiemand te praat nie. Die plan het gewerk en die speurders is vort sonder die dokument. In daardie tyd (tydens die Tweede Wêreldoorlog) was daar gereelde blackout-oefeninge met sirenes en al – en die kinders moes boekhou van hoe laat presies hulle by die huis gekom het en dit die volgende dag aan die onderwysers gee. In 1942, weens die gevaar van gevangeskap en Ella se waarskuwing dat sy vir vier seuns moes sorg en sélf geen inkomste kan genereer nie, verhuis die gesin na Heilbron om onder die oë van die speurdiens uit te kom. Op Heilbron woon hulle eers in Sunnysideweg en huur later ʼn huis (adres nou onbekend) elders in die dorp. Daar het hy eers by ʼn garage gewerk waar hy ʼn meningsverskil gehad het oor die hoeveelheid arbeid op ʼn werkskaart (hy het 'n ruitveërmeganisme herstel pleks van vervang, waarop sy werkgewer hom aangespreek het omdat vervanging meer wins sou inbring. Herman het op die plek bedank weens die werkgewer se skelm houding teenoor sy kliënte) en uiteindelik by Fairweather, Castignani & Holmes FC & H. In 1947 gaan hulle na Oranjeville, en gebruik eers ʼn ou munisipale stoor langs die waterwerke om sy eie besigheid te bedryf. Oom Org Fritz het Herman se 1938 Dodge by hulle gekoop omdat hy ʼn betroubare motor gesoek het. Later laat bou hy met die geldelike bystand van Shell sy eie garage. Die gebou staan vandag nog in die hoofstraat, Hulle het eers gebly in die huis reg langs die rondawelhuis in die hoofstraat wat sy seun Pieter later gekoop het, toe oorkant JH Fritz Algemene Handelaars (net 'n kort entjie van die vorige huis af in dieselfde straat), toe in 'n huis in die suidwestelike hoek van die dorp, aan die eindpunt van die straat waar dit doodloop langs die rivier (die huis is in die 1970's gesloop weens vloedgevaar), en laastens het hulle ʼn drievertrek (vooorkamer, slaapkamer, kombuis) nagmaalhuisie in Roetsstraat gekoop. Op daaardie stadium het 'n vorige bewoner reeds die voorstoep toegebou vir die byvoeging van 'n piepklein tweede slaapkamer en 'n waskamer (vandag meer bekend as 'n badkamer). Daar was egter ook 'n motorhuis en twee buitekamers, een vir die voltydse bediende en die ander ingerig as 'n gastekamer. Daar was geen lopende water of dreinering in die huis self nie, en water is met 'n emmer van die buitekraan gehaal. 'n emmertoilet op die verste punt van die groot erf was in gebruik. Ná Herman se dood het hul jongste seun Rudie vir sy ma 'n dreinput gegrawe, lopende water in die waskamer en kombuis ingesit, en uiteindelik 'n binnenshuise spoeltoilet. Die dorp het geen elektrisiteit gehad nie. Dit was Oupa Herman en Ouma Ella se laaste woonplek, tot hy op 15 Desember 1969 skielik weens 'n beroerte oorlede is en sy op 30 September 1974 na 'n jarelange stryd teen kanker.
Hermanus Gerhardus Booysen's Timeline
1898 |
July 9, 1898
|
Heilbron, Riemland, Oranje-Vrijstaat
|
|
August 7, 1898
|
Nederduitsche Gereformeerde Kerk, Kroonstad, Riemland, Oranje-Vrijstaat
|
||
1929 |
January 9, 1929
|
Winburg, Orange Free State, South Africa
|
|
1931 |
January 22, 1931
|
Winburg, Orange Free State, South Africa
|
|
1936 |
March 19, 1936
|
||
1940 |
March 29, 1940
|
||
1969 |
December 15, 1969
Age 71
|
Own house, C/O Roets- & Market Streets, Oranjeville, Riemland, Orange Free State, South Africa
|
|
???? | |||
???? |
Main Cemetery, Oranjeville, Riemland, Orange Free State, South Africa
|